Menu

Wat is Agent 2000 - Die Laksman?

‘James Bond’ is 'n bekende naam in byna enige huishouding. Almal bewonder dié geheime agent vir sy skerpsinnige werk teen die bekamping van misdaad. En dan is daar natuurlik ‘Sherlock Holmes’ – die speurder wat sonder veel moeite leidrade uitsnuffel en enige misdaad kan oplos.

 

Walter du Toit, ook bekend as Agent 2000, is 'n ongewone kombinasie van albei hierdie bekende karakters.Hy is skerp, innoverend, mis nie 'n enkele leidraad nie en is boonop die coolste 14-jarige Afrikaner wat nog bestaan het.

 

Agent 2000 - Die Laksman, is 'n spioen-film vir kinders en die rolprent word aangedryf deur kinders. Dis 'n aksiebelaaide avontuur wat vermaak vir jonk en oud sal bied. As 'n eerste van sy soort in Suid-Afrika, beskik die rolprent oor buitengewone en ongewone visuele effekte, 'n uitmuntende klankbaan en 'n sterbelaaide rolverdeling wat kykers sal laat lag, huil en verlief word.

Sinopsis

Agent 2000, oftewel Wwwalter du Toit, het nie baie tyd oor om sy missie te voltooi nie... Hy moet gou speel as hy Hoërskool Randburg se berugte boelie, Die Laksman, voor die einde van die ontgoeningstydperk wil vang. As Walter daarin slaag om die gemaskerde vabond vas te trek, kan hy sy vermomming in die kas bêre, vaarwel roep aan die publieke skool en sy lewe as 14-jarige, tuisonderrigte speurder voortsit.

 

Indien hy egter nie daarin slaag om sy missie suksesvol af te handel nie, word die skoolhoof afgedank, is Walter se reputasie as geheime agent daarmee heen, verloor hy sy nuwe beste vriend en is hy die meisie van sy drome kwyt.

 

'n Taak wat aanvanklik na kinderspeletjies gelyk het, ontaard gou in Walter se grootste nagmerrie. Sal hy Die Laksman betyds kan vang of sal Agent 2000 uiteindelik Die Laksman se grootste teiken in die geskiedenis van Hoërskool Randburg word?

Storie Agter Die Storie

“Ek het vir Samuel en Hydie Loots tydens die verfilming van Roepman ontmoet en was werklik beïndruk met hul seun, Paul, se vermoë as akteur. Ons het deurlopend kontak gehou en in 2012, op die stel van Verraaiers, het Hydie my vertel van 'n draaiboek wat sy geskryf het. Ek is bekend met die kwaliteit van haar skryfwerk en dit, tesame met my ondervinding van Paul se professionele loopbaan, het my dadelik laat besluit om die geleentheid aan te gryp om die prokjek te vervaardig.

 

Dit het 'n jaar geneem om die draaiboek te ontwikkel en ons het reeds vroeg met die rolverdeling begin. Ons was baie gelukkig om akteurs soos Shaleen Surtie-Richards, Amalia Uys, Karen Wessels en David James aan boord te kry. Ons was ook oorweldig deur die hoeveelheid talent van die kinderakteurs. Almal wat betrokke was, was sterre op stel – veral Izél Bezuidenhout in die rol van Chante-Amoré. Sy en Paul Loots, wat die titelrol vertolk, vorm saam 'n gedugte span op die skerm.

 

Die produksiefase was wonderlik. Ons was bevoorreg om by Hoërskool Randburg te kon skiet waar almal uiters tegemoetkomend was.

 

Ek is baie opgewonde oor die vooruitsigte van Agent 2000. Die jong Afrikaanse mark is een wat dikwels afgeskeep word in die vermaaklikheidsbedryf. Ek glo dat die film aan hulle iets bied wat nie net hope pret is nie, maar dat die rolprent ook 'n storie met 'n sterk boodskap is. Die film is innoverend omdat dit gebruik maak van 'n groot verskeidenheid visuele effekte en Benjamin Willem, wat die klankbaan behartig het, het 'n interessante kombinasie van klassieke spioen-musiek en dubstep gekomponeer.

 

Stefan Nieuwoudt, die regisseur van die film, het beslis sy beste werk tot dusver gelewer ten spyte van die feit dat dit die eerste keer was wat hy saam met soveel kinders moes werk.

 

Agent 2000 gaan jou op die punt van jou stoel laat sit terwyl Walter du Toit die Laksman probeer vastrek.”

 

- Danie Bester, Vervaardiger

Uit Die Pen Van Die Regisseur

Ek stap nou al 'n geruime tyd 'n pad saam met The Film Factory en dit was nog elke keer net 'n vreugde om saam met hulle te werk.

 

In Januarie 2012, het Henk Pretorius my gevra om 'n voorlegging te doen vir die regie van Bakgat! 3 en ek was baie ywerig om die geleentheid aan te gryp. Ek het niemand by The Film Factory geken toe die eerste Bakgat!-fliek vrygestel is nie, maar was baie beïndruk met die feit dat mense van my ouderdom dit reggekry het om 'n film te maak wat so suksesvol was. Intussen het ek die Film Factory-familie leer ken deur die ‘Agter Die Skerms’-beeldmateriaal vir Bakgat! 2 te doen en daarna het ek die geleentheid gekry om die regie van Superhelde en Bakgat! 3 te behartig.

 

Toe ek Hydie Loots se draaiboek, Agent 2000, lees, het ek onmiddellik daarvan gehou. Dis 'n kreatiewe storie wat gerig is op 'n teikenmark wat grootliks afgeskeep word in ons industrie. Gedurende 2013 het ek die geleentheid gekry om saam met Hydie verder aan die draaiboek te skaaf en dit was 'n ongelooflike ervaring om ook my insette te kon lewer.

 

Tydens produksie was dit vir my 'n nuwe uitdaging om saam met soveel kinders te werk. Dit was verfrissend omdat jong akteurs 'n nuwe tipe energie stel toe bring. Elke liewe jong mens wat saam met ons gewerk het, het uitstekende spel gelewer en die gevestigde akteurs, soos Shaleen Surtie-Richards, het die kinders met groot liefde onder hulle vlerk geneem en hul soveel as moontlik ondersteun.

 

Die redigeringsfase van die proses was ook interessant omdat ons in staat was om met soveel visuele effekte te werk en ek is baie tevrede met die eindresultaat. Ek hoop hierdie is die begin van nog vele avontuurfilms vir die jongmense in ons land.”

 

- Stefan Nieuwoudt, Regisseur

Akteurs


Paul Loots

Paul (15) is op 6 Julie 1998 in Centurion gebore. Hy is tans 'n Graad 10-leerling aan die Hoërskool Eldoraigne.

 

Vanaf vierjarige ouderdom ontvang hy opleiding in drama en blink van 'n vroeë ouderdom in kunswedstryde uit. Tydens die Suid-Afrikaanse Talentkompetisie in 2010 word hy gekies om Suid-Afrika in Orlando in die VSA te verteenwoordig. Daar word hy as een van die Top 4 Kinderakteurs gedurende die AMTC Convention aangewys. In dieselfde jaar, ontvang hy 'n erepenning van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging vir besondere bydrae op kultuurgebied.

 

In 2009, As 10-jarige begin Paul se professionele loopbaan toe hy die hoofrol in die teaterproduksie Balkie vertolk het. Daarna volg nog 'n hoofrol in SMS: Babakoors! in 2012.

 

Paul maak sy rolprentdebuut in 2011 as Timus in Roepman en in 2012 vertolk hy die rol van Karel Jnr in Verraaiers. Op die kassie, speel hy die rol van Hannes in die kykNET-reeks Thomas@. Hy verskyn ook as gasspeler op RSG se radiodrama Ratels in die rol van Tekkies.

 

Paul is versot op tegnologie en verslind die Popular Mechanics-tydskrifte. Hy neem deel aan landloop, karate en hip hop om fiks te bly. Sy motto is ‘Glo altyd’.

Ruan Wessels

Ruan (16) is op 26 Augustus 1997 gebore. Hy het aan die Laerskool Horison skoolgegaan, waar hy ook hoofseun was. Hy is tans ‘n Graad-11 leerder by Hoërskool Noordheuwel waar hy sedert Graad 8 'n lid van die Vise Leerlingraad is. Hy het sy loopbaan as akteur in 2008 begin en was gelukkig om sonder enige drama-opleiding sy voete in die industrie te vind.

 

Hy het sedert 2008 in verskeie televisie-advertensies en reekse verskyn en het selfs al radio- en animasiewerk gedoen. In 2010 het hy sy rolprentdebuut in die film Roepman gemaak. Ruan verskyn in 2011 as Morné in die reeks Binnelanders en het onlangs sy kontrak vir 'n vierde jaar hernieu. In 2012 het hy die hartebreker in die rolprent Hoofmeisie gespeel.

 

Ruan speel graag dromme en is ook 'n kranige skaatsplankryer.

Izél Bezuidenhout

Izél (15) is gebore op 25 November 1998 en is tans in Graad 10 in Hoërskool Eldoraigne. Op skool blink sy veral uit in redenaars. Izél het op vierjarige ouderdom begin met drama- en ballet-opleiding; en het ses jaar se ondervindng in moderne dans en het van kleins-af 'n groot passie vir die verhoog.

 

In 2012 het sy 'n ‘somerskool’ by die Royal Academy of Dance in Londen bygewoon. Izél het in 2007 'n dramakursus by Brümilda van Rensburg voltooi, asook 'n kursus in 2013 in filmwerk wat deur die akteurs Lelia Etsebeth en Jacques Bessenger aangebied word.

 

Haar professionele toneelspelloopbaan het in 2009 begin toe sy as 10-jarige 'n hoofrol in die teaterproduksie Balkie vertolk het wat by die Innibos Kunstefees, Volksblad Kunstefees en die Pierneef Teater opgevoer is. In 2012 het sy ook 'n hoofrol gehad in SMS: Babakoors! wat in die Atterbury Teater in Pretoria en die Vryfees in Bloemfontein op die planke gebring is.

 

in Agent 2000 is Izél se eerste rol in 'n film.

 

Die geleentheid is vir haar 'n ongelooflike ervaring en gevolglik is toneelspel nou nog 'n groter passie en droom vir die toekoms.

Janic Botha

Janic (14) is op 22 April 1999 in Kaapstad gebore. Hy neem sedert Graad 1 jaarliks aan die Kaapse Eisteddfod deel en het deur die jare baie toekennings in onderskeie afdelings ontvang. Hy is van kleins af lief vir sport en musiek en blink uit as rugbyspeler, swemmer en atleet. Op 12-jarige ouderdom het hy sy junior swart belt in karate gekry en in Graad 7 is hy gekies as leerlingsraadslid van die Laerskool Jan Van Riebeeck.

 

Sy professionele loopbaan het in 2012 begin toe hy die rol van Dawie in die KykNET-reeks Thomas@ vertolk het. Janic het intussen Erekleure in Kultuur verwerf aan die Hoërskool Jan Van Riebeeck waar hy tans ‘n leerder is.

 

Hy ry graag fiets en skaatsplank en spandeer ure in die see saam met sy vriende.



David James

David James is 'n veteraan in die vermaaklikheidsbedryf. Hoewel teater sy groot liefde is, vertolk hy ook gereeld rolle in sepies, TV-reekse en films.

 

Hy is veral bekend vir sy rolle in Isidingo, Binnelanders, Donkerland en Rhythm City waarin hy die antagonis, Hermanus Meyer, speel. In 2006 het hy die rol van Kobus Venter in die Oscar-benoemde wetenskapfiksie-rolprent, District 9, en het gevolglik internasionale roem verwerf.

 

David was onlangs te sien in die plaaslike rolprente Ordinary People en Babalas en vertolk ook 'n rol in die nuwe Afrikaanse romantiese avontuurfilm, Pad na Jou Hart. Hy is binnekort op die groot skerm te sien as 'n vreesaanjaende bendeleier in die internasionale film Northmen wat aan die einde van 2014 uitgereik word.

Karen Wessels

As sanger en aktrise van formaat, is Karen Wessels heeltemal op haar gemak op die verhoog en voor die kamera. Sy is sedert 2005 'n lid van die Suid-Afrikaanse acapella groep, Cut Glass, en het in 2007 haar debuutalbum, Hoe Durf Jy? uitgereik.

 

Sy verskyn gereeld op die kassie en is veral bekend vir haar rol in Hester en Ester Bester, asook Casper de Vries se reekse Haak en Steek en die Casper Rasper Show. Sy het ook al haar verskyning gemaak in die TV-reekse Song vir Katryn, Erfsondes en die suksesvolle kykNET-produksie Donkerland. In 2009 het sy haar eie eenvrou-komedie Groet die Grotvrou op die planke gebring.

 

Karen is nie 'n vreemdeling in filmteaters nie. Sy het al in rolprente soos Hoofmeisie en Wolwedans in die Skemer verskyn.

Amalia Uys

Amalia het haar graad in BA Drama aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en kort daarna is sy die rol van Sanmari van Graan in die gewilde sepie, 7de Laan aangebied. In 2013 het sy die Laan vaarwel geroep en is sy deesdae weer terug op die verhoog, wat eintlik haar groot passie is.

 

In 2012 het sy die karakter Ruth in Harold Pinter se toneelstuk The Homecoming vertolk en in 2013 is sy te sien as Bettie in My Vrou se Man se Lyk se Tas. Sy het haar filmdebuut in 2013 in die romatiese komedie Klein Karoo gemaak.

 

Amalia hoop om eendag terug te kyk na haar loopbaan en te weet dat sy haar passie ten volle uitgeleef het, en dat sy uitgeblink het in elke geleentheid wat in hierdie industrie na haar kant toe gekom het.

\

Kontak Ons

The Film Factory:

Yvette Wepener

Tel: 011 782 2096

yvette@thefilmfactory.co.za

Publisiteit:

Alishia van Deventer

Tel: 083 635 4717

alishia@starburstmusic.co.za